banner banner banner
Die Krag Van Middernag Gebed
Die Krag Van Middernag Gebed
Оценить:
 Рейтинг: 0

Die Krag Van Middernag Gebed


Daar is ook stede, dorpe, en lande wat met sataniese kettings gebind is en wat in die vyand se tronke aangehou word. Jy kan dit sien deur hoe mense leef, wat hulle aanbid of deur die dinge wat in daardie omgewing gebeur. Daar is plekke waarheen jy gaan waar jy dadelik die demoniese geeste wat in werking is kan onderskei. Ander aanbid verskillende demoniese territoriale geeste en owerhede.

Ek weet van ʼn dorp in die oostelike deel van Nigerië wat ʼn demoon dien wat in ʼn meer woon. Wanneer dit tyd is om ʼn offer aan hierdie demoon te maak, sal die hoofpriester ʼn lewendige bok na die meer neem. Daar sal die man die dier naby aan die oewer van die meer neem, terwyl hy die tou om die bok se nek vashou.

Dan sal hy ʼn paar inkantasies doen en dan kom daar dadelik ʼn visagtige wese uit die water en begin nader aan die bok beweeg. Sodra dit by die bok kop, kap dit die bok se kop af en swem terug daarmee. Dan sal die dienaars begin om te juig dat die afgod hul offer aanvaar het. Hulle sal terugkeer huis toe om fees te hou met die oorblywende vleis; wat hulle sal kook en eet.

Ander mense aanbid afgode wat in die woude, in die bome, in die berge, ensovoorts woon. Ek weet van sommige dorpe wat nog slange, ape, krokodille, en luislange aanbid. Hierdie reptiele kom in hul kamers in en bly daar. Hulle word altyd as spesiale gaste beskou. Hulle kan op jou bed lê of selfs net in jou kombuis hang en na jou staar. Hulle mag nie seergemaak, berispe of doodgemaak word nie. Gaan na die Idenmili gebied van die Anambra Staat en jy sal dit sien gebeur.

Daar is ook territoriale geeste wat in mense woon, veral in sielsiek mense. Al hierdie geeste hou hierdie plekke en mense in slawerny. Hulle hou hierdie gebiede in kettings en totdat hulle uitgedaag en verdryf word, sal die inwoners van hierdie plekke met die juk van die vyand sukkel. (Ons sien dit in Markus hoofstuk vyf).

Sommige van hierdie geeste verhinder ontwikkeling, vooruitgang, en selfs die evangelie. Die oplossing is om hierdie demoniese magte met middernag gevegte aan te vat. Soms sal hulle jou weerstaan en jou selfs dreig. In sommige gevalle sal dit baie aande neem. Maar as jy jou man staan en voortduur, sal hulle uiteindelik buig en gedwing word om te vertrek. Maar jy moet bereid en vasbeslote wees. Die Bybel sê die volgende in Efesiërs 6:10-12:

“Vind krag in julle verbondenheid aan die HERE, ja, in die krag van Sý sterkte! Om staande te bly teen die listigheid van die duiwel moet julle God se gevegstoerusting aantrek.

“Want ons stryd is nie teen mense nie, maar teen bose regeerders en maghebbers, teen die geeste wat heerskappy in hierdie donker wêreld uitoefen, teen die bose geeste in die hemelruimtes.”

Ek hoop hierdie boodskap is baie duidelik? Die vyande waarteen ons baklei is ʼn gedugte en hoogs georganiseerde mag. So jy moet weet waar jy staan met God en die dinamika van die oorlog voor jy dit binnetree. Ons sal later meer inligting gee oor hoe om voor te berei vir hierdie gevegte.

Kerke en bedienings kan ook deur sataniese kettings gebind word. Dit mag dalk vreemd klink, maar dit is waar. Demoniese magte kan ʼn kerk terug hou wat nie in die volheid van die krag en die gees van God beweeg nie. En dit is baie maklik om sulke kerke te identifiseer. Die simptome is: ʼn gebrek aan heiligheid, ʼn gebrek aan ontwikkeling (fisies en geestelik), en ʼn vinnige afname in lidmaatskap, stagnasie, konstante twis en haat onder die lede en selfs onder die predikante. Al die bogenoemde vind in ʼn paar van ons kerke vandag plaas. Dit word deur magte van die duisternis veroorsaak; om seker te maak dat die geaffekteerde kerke nie God se program vir hulle vervul nie.

Die duiwel weet baie goed dat ʼn verenigde kerk die kanaal is waardeur God Sy wil wil versprei, verlore siele red, Sy krag vertoon, en uiteindelik die vyand verneder. So sal hy alles doen om te keer dat die kerk uitbrei en dat dit ook in permanente verwarring gehou word.

Ek het eens ʼn kerk in die olieryke stad van Port Harcourt, Nigerië bedien. Die kerk het vir 13 jaar bestaan voordat ons daar aangekom het. Hulle gebou, wat nie te groot was nie, was nog nie voltooi nie. Daar was geen deure, vensters of ʼn plafon in die kerk nie. Die lidmaatskap was besig om vinnig af te neem. Daar was slegs ʼn paar vriende van dieselfde stam wat aanhoudend na die kerk toe gekom het. Die krag van God was nie daar nie en baie min mense het vooruitgegaan in die kerk. En nie net dit nie, maar die lede en predikante het in onsedelikheid geleef en heksery beoefen, selfs in die kerk.

Ek onthou een keer toe ons gebed span ʼn nagwaak gehou het en ek skielik aangekondig het dat iemand in ons midde (ʼn jong man) okkultisme beoefen het en toorgoed na die plek toe gebring het, maar nog steeds saam met ons kom bid het. En dadelik het die senior pastoor my onderbreek en my herinner dat hy nog in beheer was. Hy het dieselfde lewe as die jong man geleef – in onsedelikheid en heksery.

Maande later was dieselfde man beskuldig van verskeie onsedelike dade en nog erger; hy het beplan om my te vergiftig omdat ek hulle duiwelse en onsedelike aktiwiteite ontbloot het in die sogenaamde huis van God. Maar God se krag, teenwoordigheid, en genade was met my. Dit het hulle weggehou. Trouens, die man het die gif verkry, maar die Gees van God het vir my gewys dat hy bang was om dit te gebruik. Ja, Hy beskerm die wie Hom vrees!

Jy het nie nodig dat ʼn profeet vir jou vertel dat dit heeltemal ʼn dooie kerk was nie. Dit was ʼn kerk met ʼn pragtige naam, maar was gebind deur die magte van die duisternis. Toe ons daar aangekom het, het God ons gelei om ʼn gebed- en bevrydingspan te vorm. (Dit is noodsaaklik vir elke kerk om ʼn staande en gedugte gebed- en bevrydingspan te hê). Ons het begin om elke aand bidure te hou in daardie plek. Soms het ons deur die dag gevas en dan kerk toe gegaan om deur die nag te bid. En hiermee bedoel ek ware voorbidding. Ons het dit vir ʼn paar maande gedoen.

Wat was die resultaat? Die krag van God het in die kerk ingekom. Die kettings en jukke van Satan was van die plek afgebreek. Die magte van duisternis was weggejaag, maar nie sonder heftige weerstand nie. Maar God het oorwin. Wonderwerke, tekens, wondere, en kragtige verlossings het begin plaasvind in daardie plek.

Gevolglik het die lidmaatskap vinnig begin groei. Die eens dooie kerk het herlewing beleef. Die gebou was voltooi en die lede het geweldige voorspoed ervaar. Die lede was ook meer toegewy aan God. Dit is wat middernag gebede kan doen. Trouens, ons het dieselfde programme by ander kerke toegepas en het dieselfde resultate gekry. Die heerlikheid, krag, en seëninge van God sal kom wanneer die kerk leer hoe om die krag van middernag gebede te ontgin.

Kom ons gaan terug na Paulus en Silas toe. Hulle was vreeslik geslaan en in daardie gevreesde ondergrondse sel gegooi. Die Bybel sê dat omstreeks middernag het hulle begin om te bid en tot eer van God te sing. Dit was ongewoon! Mense wat erg geslaan was met houtstokke het besluit om liedere en lof te sing, in plaas daarvan om hul wonde en pyn te koester. Wanneer ons God op ʼn ongewone manier dien, in ʼn ongewone omgewing, sal Hy begin om ongewone dinge te doen ter wille van ons. Dit is waar!

Ek glo dat dit slegs iemand wie met die Heilige Gees gevul is en wie heeltemal uitverkoop aan God is wat in so ʼn ondraaglike, vernederende, hartverskeurende, en uiterste situasie vir God kan sing en loof.

Wat doen jy wanneer die vyand jou aanval? Huil jy en blameer almal, God ingesluit? Of kniel jy voor die vyand en kyk vir ʼn manier om te ontsnap; selfs al beteken dit om jou geloof te ontken? Ons moet vir God vra om ons ʼn gees van moed en geloof te gee, selfs in die aangesig van lewensgevaarlike situasies. Die Bybel sê dat God nie vir ons ʼn gees van lafhartigheid gegee het nie, maar van krag.

My volgende vraag is dan, waarom sou hierdie manne van God tot middernag wag om te doen wat hulle gedoen het? Ek glo hulle moes iets geweet het oor die krag van middernag gebede. Hulle moes geweet het dat die beste tyd om die groot gevegte van die lewe te veg om middernag is en dit is ook moontlik dat hulle dit voorheen ervaar het. Alles gesê en gedaan, die apostels het darem gehou by wat hulle by hul Meester, Jesus, geleer het. Hy was ook bedrywig in die middernag ure.

Die twee manne het gesing en gebid. En dit is die twee belangrikste ondernemings tydens middernag gevegte. Ons sal hulle een vir een ondersoek. Die eerste een is gebed.

Hoofstuk 4

Gebed

Gebed is om met God te kommunikeer. Dit is om jou versoeke aan God bekend te maak en om antwoorde van Hom te ontvang. Dit is ʼn twee-rigting kommunikasie tussen mens en God. God moedig ons in verskeie plekke in die Bybel aan om gemeenskap met Hom te hê of tot Hom te bid. Trouens, die woord van God sê dat ons nie ontvang het nie, want ons het nie gevra nie. Jesus self het gesê:

“En so sê Ek vir julle, hou aan vra, en vir julle sal gegee word wat julle vra. Hou aan soek, en julle sal vind. Hou aan klop, en die deur sal oopgemaak word. Want enigeen wat vra, ontvang. Enigeen wat soek, vind. En die deur word oopgemaak vir enigeen wat klop.”

Lukas 11:9-10

En dit is presies wat ons doen in middernag gebede. Dit is ʼn tyd om gemeenskap te hê, verband te hou, en met God te kommunikeer. Dit is ʼn tyd om te vra, soek, klop, en ons versoeke aan Hom bekend te maak. Ek sien middernag gebed as ʼn tyd om driftig en gewelddadig aan die deure van die hemel te klop. En ons sien hier bo waar Jesus sê dat die deur vir jou oopgemaak sal word wanneer jy klop. Dus, as jy al gevra en gesoek het, en jy het nog steeds nie jou deurbraak ontvang nie, moet jy nou begin klop.

Ons laat die wil van God op die aarde geskied wanneer ons bid. Ons breek die jukke, kettings, en slawerny in ons lewe en rondom ons deur gebede. Ons staan in die gaping vir ander deur gebed. En ons trek siele in die koninkryk van God in deur gebed. Ons moet in middernag gebede intree met al hierdie in gedagte. Deur te bid erken ons dat ons, as mense, beperk is, maar God bly oneindig en almagtig. Hy kan alles doen.

Abraham Lincoln, die voormalige Amerikaanse president het dit baie goed verstaan toe hy gesê het:

“Ek word dikwels na my knieë toe gedryf deur die oorweldigende oortuiging dat ek nêrens anders het om heen te gaan nie.” (Losweg vertaal)

Dit is so waar! Hy het geweet dat hy net by God hulp kon vind in ʼn tyd van nood. Dank die Here vir sulke mense. Amerika is geseënd dat hulle sulke goddelike mans as leiers gehad het. Dit is die mense wat die stewige fondament gelê het vir die mees welvarende en magtigste nasie vandag. Ek bid dat hulle hierdie fondament behou. (Lees my onlangse artikel, In God We Trust? (Vertrou Ons Op God?), op www.ezinearticles.com/gabrielagbo (http://www.ezinearticles.com/gabrielagbo))

Daar is talle wonderlike mans en vroue in die Bybel wie van God se verlossing geweet het, dit gesoek en ontvang het in hul tyd van nood deur gebed. Kyk net na Samuel, Josafat, Ester, Dawid, Moses, Josua, Elia, en Daniël. Maar kom ons fokus op ʼn paar van die kragtigste mense. In 1 Samuel 12:16-18 sê die Bybel:

Samuel

“‘Staan ’n bietjie stil en aanskou die groot ding wat die HERE gaan laat gebeur. Julle weet dit reën nie hierdie tyd van die jaar wanneer die koring geoes word nie. Ek sal die HERE vra om vandag donderweer en reën te stuur. Dan sal julle besef dat julle gesondig het deur vir die HERE ’n koning te vra!’ Toe roep Samuel die HERE aan en die HERE het donderweer en reën gestuur. Almal was met ontsag gevul vir die HERE en vir Samuel.”

Josafat en Juda in gevaar

“Hierna het die Moabiete, Ammoniete en sommige van die Meüniete oorlog teen Josafat verklaar. Boodskappers het gekom en vir Josafat vertel: ‘’n Groot leër van Edom trek op teen u van anderkant die Dooie See. Hulle is alreeds by Gaseson-Tamar, dit is En-Gedi.’ Josafat was baie ontsteld oor hierdie nuus en het vir die HERE raad gevra. Hy het ook beveel dat elkeen in Juda moet vas. Die mense het van al die dorpe in Juda na Jerusalem toe gekom om die HERE se hulp te soek.”

2 Kronieke 20:1-4

Ester

“Ester het hom geantwoord: ‘Gaan maak al die Jode wat jy in Susan kan kry bymekaar. Vas ter wille van my. Vir drie dae lank moet julle dag en nag niks eet of drink nie. Ek en my diensmeisies sal net so vas. Al is dit in stryd met die voorskrif sal ek na die koning toe gaan. As ek dan daarvoor moet sterf, moet ek maar sterf.’”

Ester 4:15-16

Josua

“Op die dag dat die HERE vir Israel oorwinning gegee het oor die Amoriete, het Josua die HERE om hulp gevra. Voor almal het hy by die HERE gebid: ‘Laat die son tog stilstaan bo Gibeon. Laat die maan stilstaan oor die Ajalonlaagte!’ Die son het gaan stilstaan. Die maan het net daar bly hang totdat Israel sy vyande uitgewis het. Dit is soos dit opgeteken staan in Die boek van die Opregte. Die son het halfpad in die lug vasgesteek. Hy was nie haastig om op sy gewone tyd onder te gaan nie. So ’n dag was daar nog nooit voorheen en nooit daarna nie. Die HERE het geluister na wat ’n mens vir Hom vra!”

Josua 10:12-14

Al hierdie mense het iets in gemeen gehad. Hulle het geweet watter krag gebed dra, en hulle het dit gesoek ten tyde van uiterste moeilikheid en God het hulle gebede verhoor. Hulle het die verloop van die natuur verander, die son en die maan gestop, reën afgeroep in droë seisoene, die bekke van leeus toegemaak, hulle vyande versteur, en dood ontsnap deur gebede. Mense soos Henog en Elia het feitlik geweier om te sterf. My God!

Daar is niks wat onmoontlik is vir ʼn mens wie bid nie. Gebed is ook om te alle tye te erken dat God jou bron is. Hy moet in die klein sowel as die belangrike kwessies geraadpleeg word. Hy wil gemeenskap met ons hê, verband hou en ons vennoot wees in alle sake.

Geloof is ook baie belangrik vir gebed. Jy kan nie enigiets in gebed bereik sonder geloof nie, veral middernag gebed. Jy moet glo dat God bestaan. Jy moet glo dat Hy alles kan doen. Jy moet glo dat Hy lief is vir jou en bereid is om jou gebede te beantwoord. Jy moet geloof in Sy beloftes en woorde hê. En die Bybel sê dat geloof volg uit die aanhoor van die woord van God. En dit neem ons na die rol van God se woord in doeltreffende gebed.

Woord van God

Vir ons gebede om doeltreffend te wees moet ons God se woorde bid. Om God se woord te bid is om te weet wat God se woorde en beloftes is, en om dit dan as ʼn offergawe aan God te bring. Om dit te doen moet ons Sy woord lees, oordink, en op ons lewe en behoeftes toepas. Die krag en heerlikheid van God kom wanneer ons Sy woorde waardeer en verpersoonlik. Die woord van God is die wil en gedagtes van God. En Hy doen niks buite Sy wil nie:

“Dit is die vrymoedigheid wat ons voor God het, dat wat ons ook al volgens sy wil vra, Hy na ons luister.”